BOEMPIE SE DOEL 

Screen+Shot+2019-05-03+at+3.50.36+PM.jpg
 

BOODSKAP VAN ONS HOOF

Annekie Pretorius

Annekie Pretorius

BOEMPIE SE DOEL

Ek glo dit is baie belangrik dat die mense wat met klein kindertjies werk spesialisopleiding en oortuigde toewyding aan die ware korrekte ontwikkelingaspekte van klein kinders moet hê. Net soos `n mens nie jou hare net by enige iemand laat stileer nie, laat mens ook nie jou kindjie skoolgaan by mense wat nie opgelei is om spesifiek kleinkindonderwys te gee nie. 

Wat Pre-Primêr Boempie betref , is dit my eerste liefde , my ware roeping en ek beplan alles wat daar gebeur, doen die administrasie en reël die instandhouding. Hierdie aspekte beslaan`n groot deel van my tyd smiddags, saans en selfs oor naweke en vakansietye. 

Ons werk heerlik, want ons glo kinders behoort op ‘n prettige manier te leer deurdat begin word by hul eie inherente potensiaal en hulle mag nooit onderskat word nie.

Die naam “Boempie” kom van ons baba-Staffordshire Bullterrier, Boepens, wat sy maag tjokkenblokvol gedrink het. Ons tweejarige seun, Michael , het hom “Boempie” genoem. Dus het die kleuterskool die naam van ‘n babahondjie.

BOEMPIE-FAMILIE

  • Pre-Primêr Boempie Pre Primary is ‘n Christelike, dubbelmedium kleuterskool, geregistreer by die Stadsraad van Johannesburg. Ons ontvang onaangekondigde besoeke en inspeksies van hulle sowel as van die Departement van Gesondheidsorg. 

  • Ons  affiliasie met die Vereniging vir Voorskoolse Onderrig en Sorg (VVOS) hou ons op hoogte van die nuutste ontwikkelinge t.o.v. voorskoolse onderrig en ons personeel woon hulle onderwyswerkswinkels by. 

  • Ons is geregistreer vir 25 leerlinge vanaf baba tot Graad R. 

  • Kinders werk op `n spelgefundeerde wyse vir `n uitgestelde doel. Dit ontwikkel sosiale en emosionele intelligensie sowel as maksimum breingroei. Leerlinge gaan van Pre-Primêr Boempie na plaaslike en oorsese laerskole absoluut skoolgereed en baie goed toegerus  op voorwaarde dat hulle ook Graad R hier voltooi, want ons Graad R is ‘n natuurlike uitvloeisel van die besondere akkumulerende en ontwikkelingsgeskikte program wat ons van babadae af  met elke kind volg.

  • Kinders kan vir swemlesse teen ekstra betaling inskryf en een keer per jaar kom hier ‘n fotograaf foto’s van die kinders neem teen ekstra betaling.

GRATIS

  • ‘n Besondere gerief by Boempie is dat ouers  en –voogde slegs een keer per jaar ‘n inskrywingstarief betaal  en nie nodig het om kort-kort geld uit te haal vir fondsinsamelings, voorskote, linne, kotte en matrasse nie. 

  • Ouers en voogde betaal ook slegs eenkeer per maand klasgeld en het nie nodig om kos , instappiegelde, geld vir Boempie Pops of geld vir vakansiesorg saam  te bring nie. 

  • Ons bied soveel aktiwiteite gratis aan dat ouers en voogde nie nodig het om geld uit te haal vir entrepreneursaktiwiteite nie. Ons dek al hierdie aktiwiteite in ons kurrikulum,want Kinders in Boempie neem deel aan  Boempie Musik, Boempie Bewegingspele, Boempie Balvaardighede, Boempie Kuns, Boempie Skrynwerk Boempie Bak-en Brou, Boempie Lingua, Boempie-Wiskunde, en Boempie-Wetenskap.

  • Selfs die kleinste babetjie voel, ruik en ervaar liggies van die aktiwiteite  indien hulle wakker is en hulle kry ook kunswerk huis toe. 

  • Soms werk ons lank aan een kunswerk, maar op die ou end kry elke kind sy/haar skepping huis toe.

  • Vakansiesorg is ingesluit by die klasgelde. Selfs grootouers kan ontspan by Boempie , want ons is drie volle vakansies oop en gedurende die Desembervakansie bly ons ook langer oop as slegs die staatskoolkwartaal. Dit sluit kos , verversings, 'n vakansieprogram en volledige baba- en kindersorg in.